Liewe Pappa

Ek worstel al amper ‘n week met hierdie skrywe.

Dit het als begin op pad na vriende se troue in Gauteng, toe ek vir die eerste keer in die jong barista wat vir my ‘n Barmhartige Samaritaan was op die dag toe pa hierdie wêreld verlaat het, vasgeloop het. Of het dit eintlik begin by die pa-en-dogter-dans by die troue toe verlange so dwars deur my bors steek? Ai paps, dit was soos ‘n skyfievertoning: eers die klein dogtertjie wat suutjies trap en leer op haar pappa se voete; later two-step op Klipwerf in die sitkamer, sommer so op ‘n doodgewonde Saterdag; die tango by tannie Bokkie se 50ste, pa se “tshie-tshie-tshie-tshie-tshieee… en tshie-tshie-tshie-tshie- tshieee” fluisters om tempo, dramatiese pouses of draaie aan te dui soos ons oor die dansvloer sweef.

Of dalk het dit voor die troue begin, toe ek pa se boor (en WATERPAS) gebruik het om items teen die muur te hang… “met ordentlike plugs dat die goed nie uittrek nie”… Pa sou tog so lekker giggel as pa in my kattebak geloer het en pa se boor tussen my haakskoene en sonhoed sien lê het.

Man pa, maak nie saak waar als begin het nie. Al wat ek weet is: ek moet skryf, want ek moet pa vanaand vertel van ‘n fliek wat ek gekyk het na ek by die genoemde bruilof was.

Pa, die fliek se naam is Kanarie, Pa. Soos in die weermag se koor. Dit speel ‘n paar jaar na pa se diensplig af, maar ek wens pa kon dit kyk. Ek wens ons kon dit saam kyk en koffie maak en lank gesels om die kombuistafel soos in die ou dae. Toe ek in die fliek sit, het so baie van pa se kombuistafelstories op die skerm tot vergestalt gekom. Wat my egter ontroer het, is die gedeeltes wat op die skerm vergetalt is, maar wat pa nooit kon vertel om die tafel nie…

Pa, na die fliek in teaters begin draai, skryf baie mans nou oor hoe hulle assosieer met die fliek. Hulle deel diep dinge wat hulle ook nooit kon vertel nie. Maar ek het nog nie baie vrouens of dogters gesien wat iets te sê het oor die fliek nie. Miskien voel hulle dat dit nie hulle storie is om te vertel nie? Miskien is hulle skaam of bang?

Hoe dit ookal sy, ek stem saam met Izak de Vries se stelling in sy skrywe op LitNet:
Die grootste gevaar is dat mense kan dink Kanarie is “net nog ’n gayfliek”. Dit is nie. Dit is byna elke troep se storie, maar ook elke troep se vrou se storie, want as jou man in die army was …

Ek wil byvoeg, dat dit ook elke troep se kind se storie is. ‘n Rukkie gelede het nog ‘n vriend (ek sê “nog” want dis nie die enigste van my mansvriende wat hieroor by my  hartoopgemaak het nie) my vertel van sy pa se onvermoë om liefde fisies of verbaal uit te druk. Dis nie net die troepe wat deur die weermag geraak is nie. Hulle nasate is ook nie ongedeerd gelaat nie.

Ek moet wel op die punt vir pa sê dat ek baie positiewe goed ook onthou wat pa oor die weermag gedeel het en baie staaltjies was propvol humor. Inteendeel dink ek pa is dalk meer getraumatiseer deur boelies op Hoërskool, of hoe? Ek reken die groter temas wat die fliek aanraak, is van groter belang as die semiotieke waarde wat in die weermag vervat is: selfondersoek-en ontdekking, identiteit, geloof, kameradarie, liefde en die mens se behoefte aan aanvaarding…

Jis, aanvaarding pa. Daar is ‘n toneel na aan die einde waar hoofkarakter, Johan Niemand, voor die dominee pleit om aanvaarding… Dis nie heeltemal verbatim nie, maar die dominee vra basies of Niemand sy talente en gawes sal prysgee en voor hy sy sin klaarmaak trek Niemand los: “ek sal ALLES prys gee vir aanvaarding!” Die dominee vra: “By wie?… By wie?… By wie?…” Dan uit eindelik die ontknoping: “aanvaarding van myself!”.

Pa, ek (en mamma en sussie) het na pa se dood, pa se hele lewe ‘n paar maande gelede opgepak. Maar ek het pa se studeerkamer opgepak. Ek het pa se rekenaar en selfoon skoongemaak… Pa ek was so deurmekaar toe ek met die inhoud konfronteer is. Ek weet tot vandag toe nie of pa gay was nie. Ek dink ook nie pa het regtig geweet nie, want pa het ook, soos Kanarie Johan Niemand dit stel: “gesing in ‘n koor… sonder ‘n stem…”
Pappa, ek weet ook nie of ons werklik mekaar se innerlike oorloë kan begryp nie…

Wat ek wel weet, is:

  • ons almal het ‘n storie en ‘n stem en dit maak saak.
  • danksy pa se liefde en aanvaarding, kan ek my stem gebruik.

Ek wil hê pa moet weet, wat ook al pa se oorlog was en of pa ooit uitsluitsel gekry het oor welke kant die stryd gewen het, ek sou pa aanvaar en liefhê.

Pappa ek hoop ander pa’s daarbuite sal nou braaf genoeg wees om hulle dogters, seuns en vrouens toe te laat om hulle werklik te SIEN. Ek hoop dat vrouens en kinders hulle pa’s genadig sal wees.  Oorlog laat geen man ongedeerd… Net omdat ons deesdae nie meer fisies weermag toe gaan nie, beteken nie daar is nie steeds oorlog om en in ons nie.

Kanarie raak geloof ook aan… Flippit pa, ek het gesien hoe pa 5uur soggens bid in die studeerkamer. Oor alles. Ek onthou hoe weird ons NG kerk geraak het na julle egskeiding… Ek onthou pa se groot hande wat myne kon toevou as pa bid… ek kon nooit by die erf uitry voor pa my nie styf gedruk het en in my oor ‘n gebed gefluister het nie… Ek moet eerlik wees pa, ek het verwerp en verward gevoel toe ek daai studeerkamer oppak en op die skrywes afgekom het. Hoe kon pa so lieg vir ons almal? Aanvanklik was ek woedend en teleurgesteld. Ek het gewens ek het dit nie gekry nie… en toe, toe besef ek, dit is nie my oorlog nie. Dit was pa s’n.

Dit is nie my of enige een op hierdie aardbol se werk om mekaar te oordeel nie. Ons moet ons naastes liefhê soos onsself… maar hoe gemaak as ons nie weet wie of wat “onsself” is nie? Hoe kan jy jou naaste dan lief hê as jy nie jouself ken nie? Jy probeer seker maar die naaste aan liefde gee wat jy ken…

Pa, daarom gaan ek pa eer. Ek gaan pa nie kruisig vir pa se tekortkominge of ongekaarte grond van pa se hart nie. Ek kan menigte voorbeelde opnoem van pa se liefde… soos die voorreg om elke oggend koffie in die bed te kry. Om met ‘n huis vol musiek wakker te word en die reuk van vars skons. Ek eer pa vir die feit dat pa my passie vir kuns, kos, musiek en skryf ondersteun het… my grootste fan was. Ek eer pa vir pa se sagte hart in hierdie donnerse harde wêreld.  Dankie dat pa geleer het om hare te blow-wave vir foto-dag by die skool. Ag… die lys kan aangaan pa. Dankie vir alles goed wat pa was…

Miskien het als toe nie begin op pad na daai bruilof toe nie… Of dalk het als begin by pa se einde?

Hoe dit ook al sy, ek hoop pa kan eendag Kanarie sien… dalk het pa reeds… Die koutjie het vir pa oopgestaan. Pa het gevlieg.

Altyd op vleuels van liefde

Vlooi